Groei

Wil jy leer hoe om Jesus beter te volg? Sluit aan by een van ons geloofsgroeiaktiwiteite. Een van die grootste vreugdes van ons geloofslewe is om Jesus te volg en om meer te leef soos Hy ons vra. By PE Hoogland leer ons saam wat dit beteken om Hom te volg – wat nodig is en hoe ons Hom moet volg. Daarom bied ons verskeie geleenthede aan waar mense toegerus word om hulle gawes te ontwikkel en hul roeping uit te leef.

Bybelstudie vir die gemeente

Sluit aan by ons Woensdagoggend Bybelstudies om 09:30 in die kerksaal. Ons behandel Bybelboeke en ander geloofstemas. Die leraars bied dit aan en temas word kwartaalliks afgewissel.

Bybelstudie vir Buffelsfontein Aftree-oord inwoners

Alle inwoners en besoekers word uitgenooi na die Bybelstudie op Woensdagoggende om 09:00 in die oord se kapel.

Bybelstudie vir vroue

Deel in hierdie spesiale tyd saam met ander vroue om die Woord van God. Verskillende fasiliteerders neem leiding, gewoonlik op ‘n Dinsdagmiddag 14:30, Woensdagoggend om 09:30 in die Voorhuis en Donderdagaande in die Kerksaal. Kontak saretta@pehoogland.co.za om die jongste inligting hieroor te kry en uit te vind wanneer die volgende reeks begin.

Vrouebediening

Ons bied ‘n veilige ruimte vir elke vrou waarin sy geestelik kan groei. Kom sluit aan by ons kwartaallikse Bybelstudies, samesyn geleenthede en verskillende gemeenskapsprojekte. Hou die webwerf dagboek dop!

Mannebediening

Hoogland se manne sluit aan by die interkerklike In Geloof Mannebediening. Hulle kom weekliks op ‘n Vrydagoggend vanaf 05:30 in Hoogland se Kerksaal bymekaar vir geestelike voeding.

Geloofvormingsgroepe vir die jeug

Neem ons hande in die geloofsvorming van jou kind. Ons help hulle om van kleins af in Jesus se voetspore te volg tot volwasse geloofswording. Sluit Sondae tydens skoolkwartale by ons aan:

·      Junior groepe (Graad R tot 6) – 09:15 tot 10:00

·      Senior groepe (Graad 7 tot 11) – 17:30 tot 18:15

Avontuurweek – kinderpret van die jaar

Kinders, spring in en word deel van die jaarlikse hoogtepunt op die jeug kalender! Die Avontuurweek in die Junie-vakansie word vir niks onder die son gemis nie. Hoërskoolleerders, saam met volwassenes, bied speletjies, sang, avonture en drama aan met ‘n geestelike inslag. Die evangelie word so op ‘n prettige manier aan kinders oorgedra. Hou die webwerf dagboek dop vir registrasie! Jy kan hier registreer vir Avo 2017!

Familiebediening

Die fokus van ons familiebediening of huisgeloof is geloofsvorming tuis. Dit sluit alle soorte huishoudings in en elke fase van die lewe. Hierdie diens het meer met ‘n benadering te doen as met aktiwiteite. Kliek hier om meer hieroor uit te vind.

Wat van tradisionele jeugbediening?

Alhoewel ons geloofvormingsaktiwiteite vir verskillende ouderdomme aanbied, wil ons veral huishoudings toerus vir diepgaande en ewigdurende geloofsvorming. Ouers word toegerus vir hul kinders se geloofsopvoeding – daar waar hulle elke dag saamleef. Hierdie toerusting vind plaas in gesprekke rakende voorbereiding vir ouerskap, die doop en vroeë kinderontwikkeling.

Wat van ander generasies of lewensfases?

Ons vier graag die oorgangsmylpale in mense se lewens en heg geloofswaarde daaraan. Ons rus mense toe vir spesifieke uitdagings wat oor hul lewenspaaie kom soos egskeiding, dood, aftrede, vroeë kinderontwikkeling en adolessensie.

Ruimte in eredienste

Ons eredienste skep ruimte vir alle generasies, om so na as moontlik aan die aard van ‘n huishouding, saam te aanbid. Deur die jaar fokus sekere eredienste op verskeie generasies.

Die volgende aktiwiteite fokus op die toerusting en versorging van mense wat deur spesifieke lewensfases of krisisse gaan.

DivorceCare

Moenie alleen deur die trauma van egskeiding gaan nie. ‘n Vriendelike groep mense kom staan langs jou in een van die moeilikste tye van ‘n mense se lewe. Oor ‘n 13-weke tydperk gesels ons eerlik oor die algemeenste ervaringe en worstelinge van egskeiding. So ontdek ons nuwe hoop op ‘n lewe na egskeiding. Vir meer inligting besoek www.divorcecare.org

GriefShare

Het jy ‘n geliefde aan die dood afgestaan? GriefShare gee hoop om die lewe weer met nuwe vreugde aan te pak. Mense beleef verliese op verskillende maniere. Hierdie 13-weke reis saam met ander wat ook geliefdes verloor het, help jou om rou op ‘n sinvolle manier te verwerk. Vir meer inliging besoek www.griefshare.org

Dis Amper Dag

Is jy in die najaar van jou lewe? Ons bied ‘n 6-weke reis aan spesiaal vir jou. Hier fokus ons op die unieke behoeftes, worstelinge en vrae van ouerwordende mense, vanuit ‘n geloofperspektief. Die reis sal jou insig gee, bemoedig en versterk met geloofsankers wat hul grondslag in God se trou vind. Die reisjoernaal is gebaseer op die treffende boek van prof Jaap du Rand – Dit is amper dag. Vir meer inligting besoek https://amperdag.wordpress.com

Immergroen ouerskap

Wil jy jou vaardighede ontwikkel om jouself en jou kind beter te verstaan? Hierdie kursus is ideaal vir ouers met babas tot huisverlaters. Ons behandel elke ontwikkelingsfase en ons unieke ouerskapuitdagings van die krip tot die kansel! Die kursus is prakties en interaktief met DVDs en ‘n werkboek. Vir meer inligting besoek http://www.evergreenparenting.co.za

IMG_8451

IMG_7827

IMG_5263IMG_2644 copy

IMG_9426 copy

IMG_9433 copy

IMG_2419 copy

Image

IMG_2420 copy

IMG_4321 copy

IMG_2425 copy